COVID-19 Algemene vrae en antwoorde vir ma’s

by | Mar 30, 2020 | Physical Health

Vraag

Ek is swanger. Is daar ‘n groter kans dat ek COVID-19 sal kry?

Antwoord

Op die oomblik is daar nie bewyse dat swanger vroue meer vatbaar is as die algemene bevolking nie. Nietemin is swangerskap ‘n tydperk van verandering vir jou immuniteit, so swanger vroue moet aanhou met die standaard maatreëls om besmetting te voorkom. Vermy dus oorvol areas en beperk die gebruik van publieke vervoer so ver moontlik, was gereeld jou hande met seep en water en moenie aan jou gesig vat nie.

Vraag

Moet ek nog my voorgeboorte klasse by die kliniek bywoon tydens die koronavirus epidemie?

Antwoord

Ja, dit is belangrik dat swanger vroue aanhou om roetine voorgeboorte klasse by te woon om seker te maak dat ma en baba se gesondheid gemonitor word en dat enige chroniese toestande goed bestuur word. Wanneer gesondheidsfasiliteite besoek word, moet ma’s verseker dat hulle al die standaard maatreëls volg, soos om hande te was of ‘n alkohol-gebaseerde reiniger te gebruik voor hulle die fasiliteit betree, nie aan hulle gesigte te raak nie en om ‘n tissue voor hul mond en neus te hou as mens hoes of nies.

Vraag

Kan COVID-19 deur borsmelk oorgedra word?

Antwoord

Daar is geen bewyse dat COVID-19 deur borsmelk oorgedra kan word nie. Die voordele van borsmelk tel baie meer as die risiko’s en nuwe ma’s word aangemoedig om vir die eerste ses maande van hulle baba se lewe uitsluitlik te borsvoed, en daarna vir so lank as moontlik.

Vraag

Ek was in aanraking met iemand wat ‘n positiewe diagnose vir COVID-19 het, maar geen simptome wys nie. Kan ek aanhou borsvoed?

Antwoord

Ja, as jy vermoed of bevestig het dat jy COVID-19 het kan jy aanhou borsvoed. Jy moet steeds aanhou om die standaard maatreëls te volg, soos om jou hande met seep en water te was voor en na jy jou baba vashou, as jy hoes of nies, ‘n tissue voor jou mond te hou, en gereeld oppervlaktes waarmee jou baba in kontak kom, te was en te ontsmet.

Vraag

Ek is swanger en was in kontak met iemand wat positief vir COVID-19 getoets is. Ek het geen simptome nie, maar ek is bekommerd dat iets met my baba sal gebeur. Wat moet ek doen?

Antwoord

Daar is geen bewyse wat daarop dui dat COVID-19 die kanse van ‘n miskraam of voortydige geboorte verhoog nie. Dit is egter belangrik om jouself gesond te hou deur die standaard maatreëls te volg, soos om gereeld jou hande met seep en water te was, dit te vermy om aan jou gesig te vat, die gebruik van publieke vervoer te beperk en publieke byeenkomste te vermy. As jy simptome ontwikkel, kontak jou gesondheidpraktisyn of bel die 24-uur COVID-19 hulpnommer by 0800 029 999.

Vraag

Ek het ‘n positiewe diagnose vir COVID-19 ontvang en ek is swanger. Is my baba ook in gevaar?

Antwoord

Daar is geen bewyse wat aandui dat COVID-19 tydens swangerskap van die ma na die baba oorgedra kan word nie, maar ons kennis oor die virus ontwikkel baie vinnig. Maak seker dat jy die nuutste inligting by jou gesondheidpraktisyn kry indien jy enige bekommernisse het. Wees ook op die uitkyk vir gevaartekens tydens swangerskap, soos bloeding, wanneer jou vroedwater breek voordat jy kontraksies kry, geen bewegings vanaf die baba vir 4 uur of langer voel nie, jy ernstige pyne in die laer dele van jou maag kry, wanneer jy ‘n toeval of stuipe-aanval kry en/of asemhalingsprobleme ervaar. As jy enige van hierdie ervaar, raadpleeg jou gesondheidpraktisyn onmiddelik.

Bronne vir antwoorde: